Tsoenami

Oct 18, 2021

My vyf maande in Meulaboh

Sy oop gesig val my op. Sy liggaam fier en regop, ’n trotse jong soldaat, vol vuur en avontuur. Die wêreld aan sy voete.

Ek sien hy probeer bo die Amerikaanse Seahawk helikopter se geraas met my praat, glimlag half verleë en trek dan ‘n pen uit sy uniform-binnesak.

Die lettertjies wat hy maak op die ronde venstertjie spring soos die helikopter voortbeur. “From where are u?” Hy hou die pen na my uit. 

“South Africa” skryf ek. En ek verwonder my opnuut daaraan dat ek hier in Indonesië mag wees. Dis tien dae na een van die grootste natuurlike rampe wat ons moderne wêreld getref het. Hoeveel het hierdie jong Indonesiese soldaat van die tsoenami beleef, wonder ek. Daar’s soveel wat ek wil vra maar ons is beperk tot ‘n klein venstertjie en ’n gedeelde veselpuntpen.

“Where are you going?” 

“Meulaboh”, skryf ek. En dis al wat ek weet. Min het ek geweet dat Meulaboh my tuiste vir meer as vyf maande sou word ...

 

Toe die wêreld 2004 oplaas groet, sit ons Global Relief spannetjie van twaalf hoog bo die Verre Ooste se lugruim. 'n Nuwe woord het in die woordeskat van tale en volke 'n begrip geword – tsunami. Die koerante was vol van nuus van die verwoestingspad van die reuse golf in Sri Lanka en Thailand. 

 

In die Kaap het die Maleier klopse vrolik gesing "Aja ja-i aja ja dis 'n nuwe jaar!"

In Banda Aceh en Meulaboh het hul voorsate naarstiglik klaend-kermend tussen stof en stene na vermiste familielede geroep, gehoop dat hulle sal antwoord.

 

Ons was op pad na Indonesië, want dis waar die episentrum van die aardbewing op 26 Desember 2004 was.

Op daardie stadium was daar geen verdere nuus oor hierdie uitgestrekte eilandjies-land nie en ons was vasbeslote om daar te gaan help. Ons het reggemaak vir 2 of 3 weke se uit en tuis. Ek was selfs bereid om vir ’n maand te gaan.

Op die eiland Sumatra het ons sommer langs die landingsbaan van die vliegveld in Banda Aceh, tent opgeslaan – die eerste buitelandse Nie-Regerings Organisasie, NGO, op die toneel.

In Banda Aceh het ons regeringsamptenare gaan sien. "Waar is die grootste nood?" wou ons weet.

"Meulaboh is die naaste aan die episentrum van die aardbewing. Maar, julle sal moet weet, daar's niks gewaarborg nie. Nie kos of water nie. Julle sal op julself moet aangewese wees."

Ons was gereed, en ons mediese span het met die eerste helikopter vertrek.

Ons ander het gewag.

Twee dae later het ek op die vliegveld na die kaptein van die Seahawk gehardloop net nadat die helikopter geland het.

"Neem ons logistieke span asseblief na Meulaboh, die mediese span het ons nodig!"

 

Dit was die sesde keer sedert die bestaan van Global Relief dat ek saam met ’n span na ’n rampgebied gegaan het. Nog nooit het ek soveel uitgestrekte verwoesting gesien nie. Kilometer op kilometer vir honderde kilometers langs die kus het dit net aangehou en aangehou en aangehou. Op plekke tot vyf kilometers die binneland in was huisies platgevee. ’n Doodsheid het kom lê op die dorpies.

Liggame het kop onderstebo in donker water soos pienk opgeblaaste winkelpoppe gedryf. En oral was hout en gemors en swart stinkende water.

Vir maande lank het bote orals langs die strate van Banda Aceh en Meulaboh vasgespoel gelê, kilometers van die see af.

 

Global Relief was 'n paar dae voor die Verenigde Nasies of ander organisasies in Meulaboh. Maar gou-gou het Meulaboh begin wemel van joernaliste en NGO’s van oraloor. Watter baanbrekerwerk het ons Suid-Afrikaanse spannetjie nie verrig nie. My hart swel nog steeds as ek dink aan ons span wat vir dae lank gaan lyke uithaal het, en vir ure aan een, noodsaaklike mediese dienste verrig het. 

Generaal Gerhan en Kaptein Dodi van die TNI, die Indonesiese Weermag, het aan ons span alles moontlik gegee van die weermag se kant af om ons in staat te stel om baie effektief te kon werk. Ons is oral vergesel van gewapende soldate.

Ons span wat mediese dokters en verpleegsters ingesluit het, het soggens in die hospitaal gewerk en dan uitgegaan na Samatiga in die distrik om in klinieke te werk. Wonde is verbind, siektes gediagnoseer, medisyne uitgedeel en immuniserings gedoen. En oral het ons spannetjie ons leuse van Vuza Vusa gestand gedoen. Vuza - om te treur en te ontlaai en Vusa om te blom.   Hierdie hoogs getraumatiseerde mense het nodig gehad dat iemand sou luister na hul hartseer verhale, iemand sou vertroos en bemoedig.

 

Ons het ’n proses begin wat soos ’n meesterplan perfek ingepas het in die behoeftes van die mense van Aceh. 


Jy vra my wat doen ons vir die mense hier in ons eie plakkerskampe. Mag ek vir jou dankie sê dat jý iets vir hulle doen? Natuurlik raak ons ook hier betrokke, ons moet, dis ons plig, maar ons kan hulle aan die anderkant van die wêreld wat binne ’n paar minute in een van die grootste krisissituasies ooit, ingedompel is, nie vergeet nie.

 

Ek gee jou graag ‘n kykie in ‘n paar mense, soos Haditya se lewens. Volgende week.